Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 04 AUGUSTUS 2013

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

IN DIE NUUS VANDAG:

DURBAN RTA DATUM VERANDER, GAUTENG RTA NOU EERSTE

DONASIE VIR TOEKOMSTIGE DX-PEDISIES

NEEM DEEL AAN DIE SARL SE AUGUSTUS-KOMPETISIE

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

DURBAN RTA DATUM VERANDER, GAUTENG RTA NOU EERSTE

Die datum vir die SARL se Rdadiotegnologie-in-Aksie-Simposium is verander na 14 September 2013. Die simposium sal in die Universiteit VA KwaZulu-Natal gehou word. Besprekings sal vroeg volgende week open.

Die RTA vir Gauteng sal op 31 Augustus in die Innovation Hub in Pretoria plaasvind. Dit is 'n baie moderne fasiliteit wat maklik vanaf die N1 bereikbaar is. Neem die WNNR-afrit en die toegangspad is oorkant die WNNR-ingang.

Besprekings vir hierdie byeenkoms sal ook volgende week open. Verkry al die besonderhede van www.sarl.org.za, kies die verbinding na Radio Technology in Action aan die linkerkant van die tuisblad.

Die eerste aanbieding is verlede week in Port Elizabeth gehou en dit was 'n groot sukses. Teken die datums vir die volgende twee aanbiedings, 31 Augustus in Gauteng en 14 September in Durban, in jou dagboek aan. Die aanbieding in Kaapstad sal vroeg in Oktober gedoen word.

NCDXC SKENK $8 000 AAN NCDXF VIR TOEKOMSTIGE DX-PEDISIES

Die DX-klub van Noord-Kalifornië het 'n tjek van $8 000 aan die DX-stigting van Noord-Kalifornië geskenk ten einde te help met die voortsetting van die stigting se werk aangaande bevordering van DX en DX-pedisies waar nodig.

Die stigting sê dat dit die grootste donasie is wat dit ooit van 'n klub ontvang het. Hulle sê dat die geld sal help om kritiese befondsing te voorsien vir DZ-pedisies na plekke wat hoog op is in die lys van mees gesogte plekke. Hulle sê ook dat sonder hierdie soort van ondersteuning sulke DX-pedisies nie moontlik sal wees nie.

Die DX-klub van Noord-Kalifornië is op 10 Oktober 1946 gestig. Die begunstigde van sy vrygewigheid, die DX-stigting van Noord-Kalifornië, is 'n private nie-wins-organisasie, gestig in 1972. Sy doelstelling is om fondse en toerusting vir verdienstelike amateurradio en wetenskaplike projekte te voorsien.

KLUBAFFILIASIE

Klubaffiliasie by die SARL is gratis.

Om seker te maak dat die klub nog bestaan, nog belangstel in affiliasie en om die SARL se rekords van die klub se skakelbesonderhede op datum te hou, is dit nodig dat die affiliasie jaarliks hernu word. Klubs wat in die vorige boekjaar geaffilieer was, en wat nie beduidende veranderings aan hulle konstitusie gemaak het nie,hoef slegs die klubaffiliasievorm in te vul en voor te lê. Klubs wat die eerste keer affilieer, moet meer inligting verskaf.

Daar is baie voordele aan die affiliasie. Moenie die prosedure uitstel tot op die laaste oomblik nie.

KOMPETISIENUUS

NEEM VANMIDDAG DEEL AAN DIE SARL SE HF-KOMPETISIE

Die komende kompetisies in Augustus (Foon, Digitaal en GG) is die vernaamste kompetisies van die SARL. Dit begin vandag, 4 Augustus, met die HF foonkompetisie en word gevolg deur die digitale kompetisie op die 18de en finaal die GG-kompetisie op 25 Augustus. Al drie kompetisies vind plaas van 13:00 tot 16:30 UTC (15:00 tot 18:30 SAT).

Hierdie kompetisies is nie net op individue gerig nie maar klubs kan ook deelneem. Dit is ideale geleenthede om u klublede betrokke te kry en dit as klubbedrywighede aan te bied. Daar kan as 'n operateur enkelband, enkeloperateur allebande, multi-operateur enkelband of multi-operateur allebande stasie deelgeneem word.

Die volgende frekwensies moet gebruik word: 14 125 - 14 300 kHz; 7 063 – 7 100 en 7 130 - 7 200 kHz en 3 603 - 3 650 en 3 700 tot 3 800 kHz.

Die uitruiling is 'n RS-verslag en 'n opeenvolgende reeksnommer wat by 001 begin. ESB-kontakte tel 1 punt, twee punte word verdien vir elke area gewerk per band en 'n verdere twee punte vir elke stasie gewerk op al drie bande. Kontakte met stasies buite die 8 wedstrydsones word toegelaat, QSO punte mag geëis word maar geen sone of driebander punte kan geëis word nie.

Sertifikate word toegeken vir die eerste drie plekke en die hoogste enkele telling in die kompetisie. Verskeie trofeë word ook tydens die AJV aan die wenners in die verskillende kategorieë van die kompetisies.

Dit is nog nie al nie, dar sal ook 'n gelukkige trekking wees vir elk van die drie kompetisies. Die wenners sal getrek word uit die logstate wat ingedien is, dus al het u selfs min kontakte gemaak, stuur nogtans u logstate in. Dit is al wat nodig is om 'n 2013 ARRL Antennahandboek as prys te wen.

Indien u 'n elektroniese logstaat hou, wat u in hierdie dag en eeu behoort te doen, is dit maklik om dit in Cabrillo of ander formaat in te dien. 'n Excel sigblad is ook geskik vir diegene wat nie oor 'n logprogram beskik nie. Logs moet teen 12 Augustus ingedien word en gestuur word aan zs4bfn@netactive.co.za.

Indien u sertifikate jaag, sal hierdie kompetisies help om u WAZS-sertifikate te verkry. Dus, haal u toerusting uit, stof dit af en neem deel aan die pret wat kompetisies bied.

SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA JD-NAELLOOP

Op Vrydag 9 Augustus, Nasionale Vrouedag, kan u deelneem aan die jaarlikse Suid-Afrikaanse Radioliga JD-naelloop. Die naelloop is op die lug tussen 09:00 en 10:00 UTC en die uitruiling is 'n RS-verslag en YL of OM.

Dit is 'n foonnaelloop op die 40 meter band (7 063 - 7 100 en 7 130 - 7 200 kHz). Kontakte tussen YL-stasies is 5 punte werd, kontakte tussen YL en OM stasies is 3 punte werd en kontakte tussen OM stasies is 1 punt werd.

Logstate moet teen 17 Augustus ingedien word by zs4bfn@netactive.co.za.

RADIOAMATEURS MOET DAARNA STREEF OM HULLE KUNS TE BEVORDER

Hierdie, en die volgende berig, is van Mike Bosch, ZS2FM, afkomstig.

Radioamateurs het vir baie jare slegs GG gebruik totdat AM sy verskyning gemaak het, 'n modus wat deur 'n groot meerderheid verafsku was weens sy seine van groot bandwydte. Na wêreldoorlog II het AM die mode geword totdat dit deur die nuwe eendklinkende ESB-modus verdring is, waarin die ou manne 'n erge teensin gehad het en mee gesukkel het om in te stem. Nou is ons op die drumpel van die nuwe digitale en spraakmodusse en ons kan dieselfde teenkanting verwag totdat dit die norm word.

Soortgelyk het radioamateurs op MF begin en toe is hulle na die HF-bande geforseer waar hulle daagliks DX-kontakte kon maak, maar slegs op sekere bande en op sekere tye. Hulle het begin om die tegniese probleme op BHF en hoër frekwensies te oorwin en ook AMA- en satellietwerking bemeester. Toe die ZR-re op die HF-bande toegelaat is, het hulle in groot getalle die BHF-bande verlaat, maar dit het ongelukkig nie amateurradio in die minste bevorder nie.

Nou is dit 'n baie opwindende tyd om betrokke te wees in in radiowetenskap en –tegnologie en n.u.-draai te maak terug na die toekoms van amateurradio. Dit beteken nie dat HF-bedryf verwaarloos moet word nie, maar eerder om tyd te gebruik om die opwindende spektrum op BHF en hoër ook te ondersoek en die beste van twee wêrelde te geniet.

2 METER BAKEN OM DIE INDIESE OSEAAN TE OORBRUG

Roger Harrison, VK2ZRH, het 'n opwindende nuusitem op VK Logger geplaas wat as volg lees: “Die oorbrugging van BHF-pad tussen Suid-Afrika en Australië oor die Indiese oseaan, wat meer as 8 500 km oorspan, word probeer met 'n baken in Perth op 144,950 MHz. Die baken is opgerig deur die ‘Northern Corridor Radio Group.’ Die baken, VK6RIO, maak gebruik van tjirpmodulasie, wat tot ongeveer 50 dB onder die ruisvlak in 'n 2 kHz bandwydte gedemoduleer kan word. die baken gebruik GPSgesluite frekwensie,tyd- en tjirpsinkronisasie en 100 W in 4-by-8 Yagis gerig na Suid-Afrika. Hierdie is van die Amateurradio Victoria se webtuiste verkry.” Lees meer hieroor op die SARL se BHF-forum.

KLUBNUUS

Tydens die Algemene Jaarvergadering van die Zoeloeland Amateurradioklub, wat op 28 Julie 2013 te Richardsbaai plaasgevind het, is die volgende lede tot die nuwe komitee verkies:

Voorsitter: John Kramer, ZS5J
Onder Voorsitter: Andrew Jansen, ZS5AND
Tesourier: Willie Axford, ZS5WI
Sekretaris: Dawn Snyders, ZS5ME
Lede: Jo Snyders. ZS5PO, (Redakteur)
Warren Snyders, ZS5WOZ
Anne Griffiths, ZS5FAB

Ons wens die nuwe komitee sterkte toe vir hulle termyn van diens, en bedank die vorige komiteelede vir hulle harde werk gedurende hulle dienstermyn.

Tydens die AJV van die CTARC gehou op 27 Julie, is lewenslange erelidmaatskap toegeken aan Paul Johnson, ZS1S, vir uitstaande bydraes aan amateurradio in die algemeen en aan die klub in besonder.

'n Nuwe komitee is verkies, bestaande uit die volgende lede:
Voorsitter: Noel Futter, ZS1FW
Tesourier en lededatabasis: Peter Henochsberg, ZS1PMH
Lede: Danny Blankenberg, ZS1BL
Shaun Overmeyer, ZS1RA
Rob Bareham, ZS1SA
Tony McEwen, ZS1TM
Paul Kennedy, ZS1PXK
Dirk Lotz, ZS1X
Deon Erwen, ZS1ZL
Dave Reece, ZS1DFR

PRETORIA AMATEURRADIOKLUB SNUFFELMARK

Die volgende ZS6PTA Megasnuffelmark word op Saterdag 10 Augustus vanaf 08:00 tot 11:00 by die Pretoria Motorklub in Silverton gehou. Vir meer inligting, of om 'n tafel te bespreek, kontak Almero, ZS6LDP op 083 938 8955.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag gaan bly. Daar is tans 7 sonvlekgroepe sigbaar maar almal is stabiel met bykans geen kans vir sonfakkels nie.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 52.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 20 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl 15 m net 'n kortkop agter behoort te wees. Kort 10 m openinge kan van tyd-tot-tyd oor Oos-Wes dagligpaaie voorkom.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

Augustus – Vandag, die Hamnet Winteruitdaging steeds aan die gang.
4 Augustus – Vandag, die SARL HF foonkompetisie.
9 Augustus – SARL JD-naelloop.
10 Augustus - ZS6PTA Megasnuffelmark vanaf 08:00 tot 11:00.
12 Augustus – Logstate vir die SARL HF-foonkompetisie moet in wees na zs4bfn@netactive.co.za.
17 Augustus – Logstate vir die SARL JD-naelloop moet in wees na zs4bfn@netactive.co.za.
30 Augustus – Oos-Rand Radiotak AJV om 14:00.
31 Augustus - RTA vir Gauteng in die Innovation Hub, Pretoria.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na "Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 205 en 17 660 kHz en ook 'n potgooi deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op "Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web'. 'n Heruitsending vind op Maandae om 16:30 UTC op 3 230 kHz plaas. Op die webwerf verskyn ook besonderhede aangaande verskeie ander heruitsendings. Ontvangsrapporte, kommentaar en voorstelle sal waardeer word. Stuur e-pos aan artoday@sarl.org.za. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga gedeeltelik vertaal, saamgestel en geredigeer deur George Honiball, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003